'n Wapenstilstand of skietstilstand is 'n formele ooreenkoms tussen strydende partye om gevegte te staak. Dit beteken nie noodwendig die einde van 'n oorlog nie, maar kan slegs 'n tydelike staking van vyandelikhede wees. 'n Wapenstilstand word gewoonlik uitgeroep terwyl 'n poging aangewend word om blywende vrede te onderhandel. Dit word ook soms uitgeroep om partye toe te laat om gesneuweldes te begrawe of om 'n gemeenskaplike vakansiedag, soos Kersfees in vrede te kan geniet.
In sommige gevalle kan 'n wapenstilstand vir 'n onbepaalde tyd voortduur. 'n Voorbeeld hiervan is die Arabies-Israeliese Oorlog van 1948 wat tot 'n langdurige wapenstilstand tussen enersyds Israel, en andersyds Egipte, Jordanië, Sirië en Libanon gelei het. Israel sluit later vredesverdrae met Egipte en Jordanië, maar tot hede is daar nie 'n skikking met Sirië en Libanon bereik nie. Nog 'n voorbeeld is die Korea-oorlog, wat op 27 Julie 1953 met 'n skietstilstand beëindig is. Die oorlog duur egter amptelik tot vandag toe voort.[1]
Een van die bekendste wapenstilstande is die verdrag wat op 11 November 1918 met Duitsland gesluit is. Die verdrag is naby Compiègne in Frankryk onderteken en het 'n einde van die Eerste Wêreldoorlog gebring. Die dag word in Frankryk en ander Europese lande as wapenstilstanddag gevier.[2]
Dit gebeur ook soms dat 'n wapenstilstand aangekondig en dan verbreek word. Die doel hieragter is dikwels om die vyand onverhoeds te betrap en so 'n taktiese oorwinning te behaal.
In moderne konflikte sal die Verenigde Nasies dikwels op 'n wapenstilstand tussen strydende partye aandring. So 'n wapenstilstand word altyd tussen die betrokke lande self onderhandel, omdat dit as meer bindend as 'n VN-resolusie beskou word.